Lente roep mens soms tot aksie. Veral na so 
						uitmergelende winter wat met sy intense wintersheid jou 
						lyf gebombardeer het en jou kop en kreatiwiteit gevries 
						het.
						Kort voor die lente ry ek na ‘n winkel wat allerlei 
						hulpmiddels verkoop vir die wat uiting aan ‘n kreatiewe 
						impuls wil gee – plakboeke, mosaiek, kraalwerk – noem 
						maar op en daar is iets te vind. Sommer met die instap 
						val my oog op die hoop woorde wat op die rak aan die 
						linkerkant lê. Allerlei woorde is netjies uit  hout 
						gesaag en lê en wag vir die ywerige handwerker om dit te 
						verf of te versier. Ek tel die woorde op: LIEFDE, PASSIE, 
						GELOOF, VREUGDE, GEDULD, VREDE, VRIENDELIKHEID. Al die 
						positiewe woorde, meeste van hulle is te vind in Gal 
						5:22 se lysie van die vrug van die Gees. Ek kyk agterop 
						na die prys: meeste is gemerk R70 of R80, selfs R90. Ek 
						sien ‘n kleiner woord in ‘n mooi vloeiende lettertipe. 
						HOOP. Die hoop is reeds mooi geverf in ‘n kraakvars wit. 
						Ek draai die woord om en kyk na die prys: R60. Dié hoop 
						is beslis ‘n bargain! Moontlik omdat dit 
						bietjie kleiner as die ander woorde is. Dalk is dit ou 
						voorraad. Miskien verkoop die HOOP nie so goed soos die VREUGDE, 
						VREDE EN LIEFDE  nie.  Tog het ek op hierdie dag  juis 
						‘n behoefte aan dié woord. Ek loop met die HOOP dadelik 
						na die betaalpunt toe, voordat iemand HOOP voor my koop.
						By die huis gekom, besluit ek dat HOOP dadelik  ‘n 
						hangplek moet kry. Iewers waar dit prominent kan wees en 
						ons kan herinner dat Hoop daar is.
						In die slaapkamer kry ek presies die regte plek. Reg 
						bokant die bed. Dié ereposisie word sedert ons huwelik 
						deur ‘n engel met ‘n kruis beklee – ‘n mooi trougeskenk 
						van broer Ewald. Ek sien dat die hoop presies op die 
						Hilti-hakkie pas wat die engeltjie soos ‘n 
						Bungi-springer bo ons bed posisioneer. Dié hakkie pas 
						presies tussen die twee o’s van hoop. Die engel en die 
						HOOP word deur die hakkie tot ‘n nuwe verbintenis 
						saamgevoeg. HOOP is nou die Van Stadensbrug vanwaar die 
						Engel die Sprong uitgevoer het. Engel hang nou 
						gesuspendeer tussen HOOP en die Bedstyl!
						Toe my reisgenoot die middag tuis kom, vra ek haar om 
						te kyk wattter nuwe toevoeging sy in ons kamer opmerk. 
						Sy kyk orals – op die bed, die kas, die bankie, maar 
						sien niks nuuts raak nie. Dis eers toe ek sê dat sy 
						boontoe moet kyk, dat sy die hoop raaksien. Sy is baie 
						opgewonde oor die toevoeging en merk op dat dit presies 
						reg daar lyk.
						Ek dink weer na oor die onontbeerlikheid van hoop. 
						Hoop is hierdie vreemde kwaliteit wat aan mense in 
						bykans onmoontlike situasies ‘n wil tot aanhou, uithou 
						en oorlewing gee. In Elizabeth Kübler-Ross se 
						outobiografie, The wheel of life, vertel sy van 
						haar besoek aan die poolse konsentrasiekamp, kort na die 
						vredesluiting na afloop van die tweede wêreldoorlog. 
						Oral was daar tekens van die hartseer en die 
						menseslagting wat daar plaasgevind het. Daar het selfs 
						nog treintrokke gestaan vol klerasie en persoonlike 
						besittings van diegene wat in die gaskamers omgekom het. 
						‘n Prentjie van wanhoop en verguising van drome. Sy het 
						ook in die barakke waar die gevangenes gehuisves is, 
						rondgeloop en haar probeer inbeeld wat in die mense wat 
						daar gebly het se gemoed en gedagtes moes omgegaan het. 
						Sy het egter telkens opgemerk dat daar tussen die 
						graffiti op die mure ‘n prentjie van’n skoenlapper met 
						gespreide vlerke geteken is. Die besef het by haar 
						posgevat – te midde van die hooplose bestaan in die kamp 
						het die skoenlapper vir die gevangenes ‘n simbool van 
						bevryding geword. Selfs binne die mure van die gaskamers 
						het sy die simbool van ‘n skoenlapper gevind – vir 
						diegene wat besig was om te sterf, was dit die simbool 
						van ‘n bevryding uit die doodskokon.
						Die simbool van die skoenlapper het so ‘n indruk op 
						Elizabeth Kübler-Ross gemaak, dat sy dit as logo en  
						bandontwerp vir haar boeke gebruik.
						Hoop gee ‘n nuwe uitsig, selfs in die benouendste 
						situasies. Daarom kon Anne Frank (self ‘n slagoffer van 
						die konsentrasiekamp)  in haar dagboek skryf:
						
							“It’s really a wonder that I haven’t dropped all my 
							ideals, because they seem so absurd and impossible 
							to carry out. Yet I keep them, because in spite of 
							everything, I still believe that people are really 
							good at heart.”
						
							 
						
							Hoop gee vlerke, nes die skoenlapper uiting gegee 
							het aan die konsentasiekampe se versugtinge:
						
							 
						
							“Hope is the thing with feathers
							That perches in the soul
							And sings the tune without the words
							And never stops at all.”  (Emily Dickenson)
						
							 
						
							Daarom kon ek vanjaar vir my reisgenoot ‘n 
							ge-mosaiekte “pandora”-kissie as geskenk gee met 
							haar verjaarsdag. ‘n Hoop-kaartjie binne-in. Hoop 
							was immers die een ding wat oorgebly het nadat 
							Pandora uit nuuskierigheid die kissie oopgemaak het 
							en al die euwels en slegte dinge laat ontsnap het. 
							Hoop het met ‘n fluisterstemmetjie uit die kissie 
							geroep: Ek is nog hier, laat my ook toe om uit te 
							kom!
						
							 
						
							Op die hoopkaartjie in die kissie kon ek die wens 
							van Paulus vir sy geloofsgenote ook as wens vir haar 
							gee:
						
							 
						
							Mag God, die bron van hoop, julle 
							deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, 
							sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die 
							krag van die Heilige Gees!  (Rom 15:13)
						
							 
						
							Ware hoop is is weliswaar nie te koop nie, maar dit 
							is wel as geskenk beskikbaar vir hulle wat in geloof 
							bereid is om dit te ontvang van die Bron van Hoop.
						
							 
						
							Die prys is immers reeds betaal. En die Hoopbewys is 
							die klip wat weggerol is voor die grafkokon.
						
							 
						
							Die vlinder het sy vlerke gesprei…
						
							 
						
							do you believe in heaven
							could it be a lie
							what becomes of restless souls
							do they really die?
						
							Transitory spirits move
							from minute to millennium
							and virtue fights
							the force of evil on and on
							’till kingdom come
						
							While the world spins on its axis
							and the moon sleeps in the sky
							the sun warms a cocoon
							Jesus was a butterfly
						
							Life and death come and go
							a fluttering of wings somewhere in the darkest night
							one more angel sings
							Transitory spirits raise their voices in a Requiem 
							and virtue fights
							the force of evel on and on ’till kingdom come
							While the world spins on its axis and the moon 
							sleeps in the sky,
							the sun warms a cocoon,
							Jesus was a butterfly
						
							 maybe Jesus was a butterfly
						(Herman van Veen – Butterfly)