‘n Bejaarde toeris aan Philippolis wou die 
				week weet: “Waarom doen julle dit?” Sy vraag was duidelik en dit 
				het geblyk dat daar ‘n amperse verdagtheid teenoor die 
				Philippolis Projek by hom aanwesig was. Dalk dieselfde as die 
				van ‘n jong sakeman net na die eerste werkdag van 21 September 
				2012. “Ek is baie ongelukkig met wat in Philippolis gebeur. Ons 
				betaal belasting en nou moet ons nog die werk doen ook!”  
				Die antwoord is lank. In kort kon mens 
				verklaar dat dit uit die hart gebore is.  
				Ons vervallentheid in ‘n kultuur van verorber, 
				absorbeer, kry en wil he, het gemaak dat ons nie meer genoeg 
				omgee, gee en opoffer nie. Die voordurende verskuiwing van die 
				ideale van die perfekte, grootliks deur die “brand names” en die 
				“Jones’s” het ons verander in hoespoed rotte. Ons eie en 
				gesuggereerde vrese vir die onbekende moet gesus word met 
				versekering. Mure en slotte teen die honger of gulsige rowers, 
				versekering teen gevreesde siektes wat soms direkte uitgroeisel 
				raak van ons gestresde en gekitsde lewensstyle, 
				korttermynversekering om vir ons gewaande gemaksones se 
				veranging te betaal sou iets gebeur, versekering vir die oudag 
				wanneer die norm beveel “nou’s dit aftree oord toe”. Ons het 
				vreesgedrewe duplikate geraak.   
				Dit als terwyl ‘n meerderheidspersentasie van 
				ons mede Suid-Afrikaners se grootste vrees  dalk die  honger 
				moet wees; ek weet nie.
				Ja, maar hulle is meestal dronk. Die dronk is 
				dalk die pad na die hemel om van die hel van gister en 
				netnou-weer te ontsnap; ek weet nie.
				Ja, maar hulle wil nie werk nie. “Die dae 
				lank se min eet maak my treurig, meneer”; ek weet nie. 
				Ja, maar hulle steel. Die geslagte se 
				ontneming het ‘n gulsigheid tot gevolg en as die tafel gedek 
				staan, genooid of ongenooid, eet soveel so gou as moontlik. Ek 
				weet nie.
				Ja, maar hulle kry “grants” van die staat. As 
				dit nie vir die “grants” was nie , sou ons dalk halfpad deur ons  
				eie “Arab Spring” gewees het. Wanneer die Chinese grondstofgeld 
				waarmee die staat klaarblyklik die “grants” betaal in 2020 in 
				die woorde van Moeketsi Mbeki , opdroog, kan Suid Afrika dalk sy 
				“Arab Spring” beleef. En dit sal die moeder van revolusionere 
				lentes wees. Ek wil nie weet nie. 
				En jy moet jou naaste liefhe soos jouself…
				En dan lees jy van ‘n meningspeiling in Beeld 
				wat as uitslag voorhou dat meer as 60% van die talle deelnemers 
				eerder in ‘n klein dorpie sou wou bly, as in ‘n stad of groot 
				dorp. Dalk die verlang na ‘n goed funksionerende gemeenskap en 
				onopgesmukte menswees, verder weg van die plastiek, chroom en 
				glas; uit die moderne Jerigo uit, weg van die gekloonde “malls”, 
				weg van ‘n gejaagde bestaan ontneem van vryheid en vrede. 
				Die besef dat ons in Philippolis, oudste 
				nedersetting in die Vrystaat en die ou Transvaal, die voorregte 
				van uiters lae misdaad, skoon lug, goeie verhoudings onderling 
				en die plattelandse lewensstyl as vanselfsprekend aanvaar, 
				terwyl miljoene ander Suid-Afrikaners in hul eie huise agter 
				tralies woon, erge besoedeling ervaar, nie hul bure ken nie, het 
				ons genoop om daadwerklik te begin om dit wat ons het te bewaar 
				en te verbeter. Dit geld ons infrastruktuur, lewensstyl asook 
				ons mense.
				Die gemeenskap het, sonder om die plaaslike 
				owehede te kritiseer vir swak dienslewering, besluit om self die 
				uitdagings te aanvaar en die dorpie op te kikker. Met harde werk 
				en oop harte is daar ‘n begin gemaak om nie net nog ‘n 
				skoonmaakaksie te loods nie, maar enersyds infrakstruktuur te 
				verbeter en andersyds ‘n positiewe impak te maak op die inwoners 
				se lewens. 
				Voorheen sou daar oral rommel rondgestrooi 
				wees. Die ingesteldheid het sodanig begin verander dat sekere 
				gedeeltes van die dorp nou bykans altyd skoon is. Die park by 
				die ingang tot die dorp was toegespan met n onooglike heining. 
				Met die hulp en organisasie deur Danie Van den Berg, ‘n 
				pensionaris is die park nou pragtig omhein deur ‘n plaaslike 
				boer se werkers. Verspoelings en uitkalwings langs die strate is 
				met honderde vragte gruis herstel en vasgerol. Alles gedoen met 
				die toerusting , geld, arbeiders van plaaslike sakemense en 
				boere. Piere de Vos, ‘n plaaslike sakeman het persoonlik dae 
				agter sy trekker se stuurwiel deurgebring om paaie te help 
				herstel. Clayton Steel het ‘n padskraper aan die projek geleen. 
				Paaie wat na bewering 15jaar terug laas geskraap was, is reeds 
				herstel. Geroeste en vervalle bruggies is herstel en geverf. Die 
				Kopanong Plaaslike Munisipaliteit het R79 000.00 se brandstof 
				aan die projek bewillig. Plaaslike sakemense, inwoners en 
				vriende van Philippolis het reeds duisende geskenk om die wiele 
				aan die rol te hou. 
				Daar is reeds begin met die aanbring van nuwe 
				verkeerstekens; daar is by sommige kruisings en aansluitings 
				geen of verbleikte stoptekens. Openbare parke spog met nuwe 
				plante en gruispaadjies. Die eerste nuwe straatnaambord is 
				aangebring: Kokstraat, vernoem na Griekwahoofde. ‘n Sokkerveld 
				word gemerk en nou kan die spelers van die Bergmanshoogte Skool 
				die spel se reels toepas. Bykans vyftig slaggate in ‘n 200m 
				lange gedeelte van Hospitaalstraat word herstel onder leiding 
				van ‘n jong plaaslike sakeman met padboukwalifikasies, 
				Christiaan du Toit. Werkers van die VVA werk kliphard vrywillig 
				saam. 
				Hier is nog baie maande en dalk jare se harde 
				werk voor. Philippolis gaan met positiewe gesindheid, 
				samewerking tussen al die inwoners en die munisipaliteit een van 
				die beste dorpe in die land word. Erens voorentoe sal ons dalk 
				kan terugstaan en kyk na ons handewerk, maar dan sal ‘n kind 
				dalk aan ons baadjie trek en vra: “…meneer, asb net vyf rand vir 
				brood” en dan sal ons opnuut besef dat die werk nie klaar is nie.
				
				Hier wil ons ‘n toekoms vestig waar kinders 
				van jongs af gehelp word om hul eie boererye en besighede te 
				vestig, sodat niemand eendag sal hoef te drink om uit hul hel 
				weg te kom nie. Ons wil nooit nodig he om ‘n gompotjie te sien 
				le waar kinders flussies gesit het nie. Ons wil nooit hoor dat 
				een van ons dorp se kinders in die tronk is terwyl hy eintlik 
				besig moes wees om ‘n kwalifikasie te verwerf nie. Ons wil nooit 
				hoor dat een van ons kinders ‘n roekelose bestuurder was, wie 
				ook ander mense hul lewens gekos het nie.
				Die bome wat ons nou plant sal dalk eers lank 
				nadat ons reeds weg is, behoorlike skadu bied. Die saad wat ons 
				gaan saai, sal miskien jare in die grond wees en eers opkom 
				wanneer die tyd reg is, solank ons net daagliks doen wat ons 
				moet doen en nooit moeg word om goed te doen nie. Miskien as ons 
				‘n ou kar aanskaf waarmee ons ons kinders, elke een van hulle, 
				leer om verantwoordelik te bestuur, sal ons kinders se name nie 
				onder die padslagting opskrifte verskyn nie. Miskien wanneer die 
				land nie meer genoeg voedsel kan invoer nie, sal ons 
				groentetuine en kekkelende henne ons rustig stem.
				En wanneer ons oud is sal ons harte verwarm 
				wanneer nou se nog ongebore kinders ons met ‘n “More Tate, hoe 
				gaan dit?” groet.  Dit wat ons hier het mag nooit net verdwyn 
				nie. Wanneer dit hier verdwyn, is Perth die alternatief vir ons 
				nageslag, met net die vae merk van herinnering aan karoostof en 
				‘n voorgeslag uit Afrika, vir hulle oor.
				Ons sal saamwerk om die brandarmes se nood te 
				verlig en streef om net mens te wees, soos die Kona-gesin in 
				Philippolis se Pollapark, waar ‘n ouma na haar vier vigswesies 
				en nog twee omsien. Hulle maak reeds organiese kompos vir 
				volgende seisoen se groentetuin, en daar’s altyd ‘n glimlag daar. 
				 
				Deon Beneke